Die Worcester-eisteddfod was vanjaar weer eens ’n groot sukses.
’n Pryswennerskonsert is Dinsdagaand 13 Augustus by Worcester Primêre Skool gehou. Dit was ook die afsluitingsaand van vanjaar se eisteddfod.
Die burgemeester, Antoinette Steyn, het die medaljes aan die leerders oorhandig.
Ouers kon agteroor sit en die talent op die verhoog geniet.
Elizma Kellermann, voorsitter van die eisteddfod, sê die kompetisie het vanjaar van Julie tot Augustus geduur. “Sing, skep, dans, skryf en fotografie is alles kuns. Kuns is die hoogste vorm van kultuur. ’n Bestaan sonder kuns sal beteken mense is minder gelukkig,” sê Kellermann.
Die aand is met koorsang van die Variati-kamerkoor geopen. Ander optredes het solosang, poësie, monoloë, tweespraak en klavierspel ingesluit.