Worcester maak weer so

Mense het by die Nekkies-Paasfees-musiekfees in Worcester eindelik weer die kans gehad om te vier soos net Worcesteriete kan.


So graag as wat ons wil, is sekere gebeure soms onmoontlik om te verstaan.

Tot vandag toe bespiegel die mens oor die ontstaan en werklikheid van Covid-19. Ons vra, luister en dink oor alles wat hiermee gepaardgaan, maar soms voel dit na ’n gejaag na wind.

Die afgelope twee jaar was moeilik vir almal oor die wêreld heen, maar dit lyk asof alles nou na die gewone terugkeer.

Dit was die gevoel wat ek ervaar het toe ek die Paasnaweek se Maandag (18 April) by die Nekkies Paas-musiekfees besoek afgelê het.

Worcester hou ’n jaarlikse Paasbasaar, wat ’n historiese nalatenskap vir die dorp sowel as sy godsdiensgemeenskap is. Die Nekkies-Paas-musiekfees is uit hierdie idee gebore. Dis ’n fees wat gesinspret belowe en die welstand van die gemeenskap bevorder.

Volgens die organiseerder, Raymond Esau, het hulle die eerste fees in 2018 gehou en ten spyte van die feit dat dit vanjaar slegs hul derde fees was, het dit enorme groei opgelewer. Wat egter belowend is, is die gedagte dat die organiseerders reeds kyk na toekomstige feeste en belangstellende welbekendes, danksy die aandag wat hierdie fees oral in die Wes-Kaap geniet.

Vir Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei, was dit ’n riem onder die hart om mense ná Covid-19 weer só te sien.

“Musiek is in ons murg en been; dis deel van wie ons is en danksy ons plaaslike kunstenaars is ons voorwaar vandag hieraan herinner,” het Steyn gesê.

Vir haar het dit gegaan oor die mense; die samekoms van verskeie kultuurgroepe en om plaaslike talent die platform te bied om hulself na die beste van hul vermoë uit te druk.

Dit sluit plaaslike kunstenaars in soos Carlo, Cheswyn Ruiters, Melissa en DJ Global, almal welbekend. Sy was veral dankbaar vir die optredes van Dr. Victor en The Rockets aangesien die gemeenskap nie aldag R30 of R50 kan betaal om na hulle in lewende lywe te luister nie. Vir die burgemeester het dit oor die genot van mense en oor omgee gegaan, en terselfdertyd het sy haar dankbaarheid uitgespreek teenoor Worcester en die omliggende dorpe vir alles wat in die afgelope twee jaar in die onseker tye bereik is.

Tasha Norris-Africa, een van Worcester Sekondêre Skool se onderwysers, het die burgemeester se hartsgevoel gedeel.

Vir haar was dit ’n voorreg om weer aan mense te kan vat en ’n drukkie te deel.

Die welbekende seremoniemeesters Mr. G, Charlrica Julies en Clarence Ford, het grootliks tot die genot van die mense bygedra met hul vermaaklike en sprankelende persoonlikhede.

As ’n mens luister na die gevoel van die mense en kyk na dit wat op almal se gesigte te sien was, kan ’n mens nie help om aan dankbaarheid te dink nie.

As besoeker aan die fees dink ek aan een gees en ’n mooi gesindheid van kunstenaars sowel as inwoners.

Carlo Abrahams, een van die dorp se kunstenaars, het ook Maandag die skare by Nekkies vermaak.
Paas musiekfees
Die skare kon nie stilsit nie en het tot sonsondergang gedans.
Paas musiekfees
Die bekende DJ’s TXC het ook ’n draai by die Nekkies-oord gemaak.
Paas musiekfees
Dr. Victor was een van gaste wat die skare by Nekkies vermaak het.

Benewens die plaaslike kunstenaars het die bekende vroue van Johannesburg, TXC, tot die vermaaklikheid bygedra.

Dalk klink dit gering, maar dit was kragtig in vergelyking met wat ons die afgelope twee jaar in die gesig moes staar.

Dalk is dit nie iets wat ’n mens se gedagtes daagliks kruis nie, maar ons het werklik mooi mense hier in die Boland.

Vergeet van die voorkoms wat as bonus dien en dink aan die harte wat so goedgesind is. Dís die nagedagtenis waarmee die Nekkies-Paas-musiekfees my gelaat het.

You need to be Logged In to leave a comment.