Worcester-polisie stuit vlugtende rowers

Worcester was gister (Woensdag 18 Mei) in rep en roer toe die polisie vyf gewapende rowers in Riebeeckstraat vasgetrek het.


Worcester was gister (Woensdag 18 Mei) in rep en roer toe die polisie vyf gewapende rowers in Riebeeckstraat vasgetrek het.

Die toneel het omtrent soos ’n filmstel gelyk met ’n skare wat onmiddellik saamgedrom het.

Die vermeende rowers was na bewering betrokke by ’n besigheidsroof in Riebeeck-Wes en was op vlug.

Volgens AO Vathiswa Jacobs het die Worcester-polisie omstreeks 12:45 Woensdagmiddag inligting ontvang van ’n silwer Lexus voertuig wat betrokke by ’n besigheidsroof wat in Riebeeck-Wes plaasgevind het.

“Die voertuig is toe in Riebeeckstraat in Worcester opgemerk en is dadelik deur die Worcester-misdaadvoorkomingseenheid afgetrek. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en die ander drie verdagtes het weggehardloop.”

Die drie verdagtes is enkele minute later deur lede van Worcester se bende-eenheid in hegtenis geneem. Hulle is deursoek en twee vuurwapens en ammunisie is gekonfiskeer Daar is beslag gelê op een 9 mm Berretta met sy magasyn met vier koeëls, asook ’n 9 mm Norinco en sy magasyn met twee koeëls.

“Die Lexus is deur die polisie deursoek en hulle het 362 pakkies sigarette en geld gevind.”

Jacobs sê al vyf verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde eiendom.

Al vyf verdagtes sal op 20 Mei 2020 in die Riebeeck-Wes-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, insluitend besigheidsroof.

rooftog
Die silwer Lexus waarmee die rowers gevlug het.
rooftog
Een van die vuurwapens en die ammunisie waarop die polisie beslag gelê het.

You need to be Logged In to leave a comment.