Worcester Primêre Skool (WPS) se o.13A-rugbyspan het pas teruggekeer van ’n kragtoer in Kimberley, waar hulle een van net drie onoorwonne spanne in die Wildeklawer Skolerugby- en netbaltoernooi was.
Die manne het boonop nie klein oorwinnings behaal nie. Hulle het Laerskool Wierdapark van Pretoria met 50-12 geklop, Sunridge Primêr van Port Elizabeth met 47-5 en Laerskool Kathu met 47-10.
WPS se rekord tot dusver by dié kompetisie is 8 uit 9 wedstryde gewen in die drie agtereenvolgende jare dat hulle die Boland verteenwoordig het.
Dié toernooi vir die land se voorste laerskole in rugby en netbal, word reeds sedert 2009 aangebied en het vanjaar 128 rugby- en netbalspanne van 18 skole reg oor die land betrek, asook verskeie ontwikkelingspanne.
WPS se o.13A-span ervaar ’n uitstekende rugbyseisoen. Hulle het ook reeds aan die Glenwood-fees in Durban deelgeneem waar hulle in die eindstryd teen Glenwood verloor het. Hulle het ook reeds teen skole soos Gene Louw, Durbanville, Eversdal en Bastion gespeel.


