Worcester Primêr het onlangs ’n fonds vir een van sy geliefde onderwysers gestig.
Beenmurgkanker is vroeër vanjaar by Gerhard Janse van Rensburg gediagnoseer.
Gerhard is 4 Januarie baie skielik na Netcare-hospitaal in Kuilsrivier verwys waar hy die hartseernuus ontvang het dat hy miëloom (’n seldsame kanker wat tot abnormale plasmaselle lei) het. Dit is ’n vorm van kanker wat baie intensiewe behandeling vereis.
Daar is ’n baie lang pad wat vir Gerhard en sy vrou, Ina, voorlê. Volgens Ina sluit sy behandeling vier tot ses siklusse chemoterapie in, waarvan elke siklus uit 28 dae bestaan. “Hy gaan chemoterapie in tabletvorm en inspuitings onder sy vel kry, en sal een keer per maand sy dokters by Netcare-hospitaal in Kuilsrivier moet besoek,” vertel Ina.
Volgens haar het die behandeling ook newe-effekte soos naarheid, buikpyn, erge moegheid, verandering van of geen eetlus nie, haarverlies, en ’n onderdrukte immuunstelsel wat vatbaar is vir infeksies.
Wanneer beenmurg- en/of bloedkanker by ’n mens gediagnoseer word, vorm ’n beenmurgoorplanting deel van die behandelingsplan.
“In Gerhard se geval sal sy eie stamselle geoes en gebruik word met sy beoogde oorplanting later hierdie jaar. Die oorplantingproses behels toelating tot ’n hematologiese isolasie-eenheid vir ’n minimum van 21 dae en ná ontslag sal hy vir drie maande lank, elke twee weke die dokter moet besoek.”
Hoewel ondersteuning geweldig belangrik is en ook aangemoedig word, is privaatheid vir Ina en Gerhard ook ’n belangrike faktor.
Volgens die skool is praktiese en finansiële ondersteuning in hierdie stadium die belangrikste vorm van ondersteuning, wat ook hul aanpassing sal vergemaklik.
“Dit is ook onmoontlik vir Gerhard om tussen sy behandeling te werk en dus ervaar hy ’n verlies aan inkomste vir die jaar van 2019. Die behandeling kan ook net by Netcare-hospitaal in Kuilsrivier plaasvind, dus hou dit ook verskeie verskuilde finansiële kostes, soos vervoerkostes, in,” het ’n woordvoerder van die skool gesê.
“Finansiële uitdagings plaas geweldige ekstra spanning op ’n gesin gedurende hierdie tydperk. Finansiële hulp sal die gesin help om aan te pas by hulle nuwe omstandighede. Die skool wil op sy beurt ’n reuse-impak maak in ’n onnie, wat bykans 40 jaar by die skool onderrig, se lewe,” vertel die woordvoerder.. Belangstellendes kan ’n eenmalige inbetaling maak of ’n debietorder teken wat ’n maandelikse bedrag tot hierdie fonds bydra. Vir nog inligting skakel Worcester Primêr by 023 347 0663.


