Young Hamiltons RVK van Worcester sien met vertroue uit na die tweede ronde van die Boland-grootuitdaagkompetisie, wat Saterdag (7 Junie) met ‘n wegwedstryd teen Blue Birds van Bonnievale begin.
Die klub moes in die eerste ronde talle uitdagings oorbrug en al is die eerste span derde op die punteleer, kon hulle – indien twee van die verloorstryde in hul guns was – eerste geëindig het. Dit is wat hierdie groep spelers laat glo dat hulle aan die einde van die seisoen ‘n sê in die gesogte Top-12-uitklopkompetisie sal hê. Met ‘n gesonde bestuurstruktuur en ‘n afrigters- korps met een doel tesame met duisende ondersteuners oor die Wes-Kaap heen, het die klub geen rede waarom hy nie tot sy volle reg kan kom nie.
Hammies het wel vier nederlae gely, maar kon net so maklik as oorwinnaar uit al vier wedstryde getree het deurdat kritieke besluitneming op sekere tye in die wedstryde die span punte gekos het.
Daarbenewens het die laaste stryd in die eerste ronde teen die Boland-kampioen, Robertson, die A-span baie moed gegee deurdat Robertson tot in beseringstyd gefokus moes bly om uiteindelik 22-20 te seëvier.
Dit was nadat die skeidsregter, Bradley Kotze, ‘n omstrede drie aan Robertson toegeken het. Dit op sigself het geensins die moraal van die span gebreek nie.
Wat die positiewe gees in die klub verder aanwakker, is dat sy B-span sowel as sy C- span die eerste ronde in die eerste plekke afgesluit het, wat daarop dui dat Young Hamiltons ‘n krag is om mee rekening te hou – van die A- tot die C-span.
• Busse vertrek Saterdag om 11:00 van Esselen Tavern af.