’n Lid van die beheerliggaam, Francis Christian, oorhandig die bussie se sleutels aan die skoolhoof, Hubert Titus.Foto’s: Brümilda Swartbooi


Worcester Rooms-Katolieke (RK) Primêre Skool het onlangs vir die eerste keer in die skool se geskiede­nis ’n skoolbussie gekoop.

Die skool bestaan reeds vir 57 jaar. Die skoolhoof, Hubert Titus, sê dit was ’n samewerkingsprojek tussen ouers, leerders en die personeel.

“Ek is geweldig trots op die skoolgemeenskap. Ons ouers ondersteun die belange van hul kinders,” sê die trotse skoolhoof.

Die totale bedrag van R380 000 is deur geldinsamelingsprojekte ingewin. “Ons het hoenderbraaie gehou, ’n pretloop en die leerders het ook lootjies verkoop,” sê Titus.

Die voorstel vir ’n bussie is in 2016 by ’n diplomaplegtigheidsaand aan die ouers bekendgemaak. Die ouers het onmiddellik die projek ondersteun.

Die harde werk het in 2017 begin. Die skool se mikpunt was om die bedrag in 30 maande in te samel. Ná twee jaar van harde werk kan die skool nou die vrugte pluk. Die bussie sal aangewend word om leerders na sportgeleenthede en skoolaktiwiteite te vervoer.

Titus sê ’n onafhanklike vervoer­maatskappy was in die verlede te duur, juis daarom het die skool besluit om ’n bussie aan te koop.

Vader Loyolo Jacobs van die Maria Goretti Rooms-Katolieke gemeente het die bussie geseën en gebid dat die leerders en hul bestuurder veilige kilometers op die pad sal aflê.

Titus is trots op die kopie. “Hierdie wys tot watter hoogtes ons in staat is. Ons moet net groter droom en hoër mik. Vir ’n skool geleë in ’n minder­bevoorregte gebied is hierdie ’n groot mylpaal,” sê Titus.

Die skool se embleem en leuse is op die bussie.

Titus bedank almal wat gehelp het om die koop van die bussie moontlik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.