Die Worcester United-krieketklub (WUCC) se A3-span het sy indrukwekkende vorm voortgesit met ‘n vyfde opeenvolgende oorwinning – hierdie keer teen Villiersdorp.
Die span het ‘n goeie balans jong talent en ervare spelers ingespan – ‘n resep wat duidelik werk.
Villiersdorp het die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Newton Cupido en Jonwin Bronn het die openingsaanval gevoer en elk ‘n paaltjie in die eerste tien boulbeurte geneem. Daarna het Franklin Cupido en Yusuf Abrahams ‘n stewige vennootskap vir Villiersdorp opgebou, met Franklin wat ‘n puik 54 aangeteken het en Yusuf 24.
Die draaiboulers het die deurslag gegee. Shaun Fata het vier paaltjies geneem en Zayron Booysen twee, wat Villiersdorp op 149 lopies laat eindig het.
WUCC se kolfbeurt was klinies. Shaun Fata en Jerobeam Louw het die beurt met ‘n vennootskap van 75 geopen, en Fata het ‘n blitsige 96 aangeteken. Die teiken is gemaklik in die 23ste boulbeurt verbygesteek en WUCC het die wedstryd met agt paaltjies gewen.
Terwyl A3 vier, moes die A1- en A2-spanne die knie teen Van der Stel buig.
A2 het tuis gekies om eerste te kolf en 224 aangeteken, met Randall Jonkers wat ‘n indrukwekkende 98 bygedra het. Ongelukkig het gereelde paaltjie-verliese ‘n groot vennootskap verhinder. Van der Stel het sterk teruggeveg en die teiken in die 45ste boulbeurt bereik, met net drie paaltjies plat.
A1 het ook gesukkel op ‘n blad wat die boulers bevoordeel het. Geraldo Cremon (59) en Byron Buys (36) het aanvanklik stand gehou, maar van 103/2 het die middel-orde in duie gestort. Die span het op 150 geëindig, waarna Van der Stel die wenlopies teen 151/2 behaal het op ‘n blad wat later die dag meer geskik was.
Spelers kry nou ‘n blaaskans voordat die 50-boulbeurt-kompetisie in Januarie hervat word. – Hadley Alberts





