Worcester Villagers (Villa) het die afgelope Saterdag (11 Oktober) met mening teruggeveg en met ‘n indrukwekkende aanslag sy strewe na Top-12-glorie begin toe hy die Overberg se kampioenspan, Botrivier (of Botla Fire, soos dié span onder sy honderde fanatiese ondersteuners bekendstaan) met 36-29 in Botrivier geklop het – nadat die wenspan teen rustyd nog met 12-19 agter was.
Villa het met hierdie oorwinning ook sommer ‘n duidelike boodskap aan voornemende aanspraakmakers gestuur dat hy sy oog ferm op die Grootuitdaag se Top-12-kroon gerig het.
Hierdie naweek wag egter nog ‘n moeilike hekkie wat oorgesteek moet word wanneer hy Roses United (of die Rose, soos hy algemeen bekendstaan) op Bolandpark die stryd moet aansê. Roses United is ‘n perd van ‘n ander kleur omdat hy ‘n deurwinterde span is wat voorheen al met groot sukses en welslae aan al die groot kompetisies in Boland deelgeneem het.
In ander wedstryde in dieselfde kompetisie speel Botrivier komende Saterdag (18 Oktober) in ‘n wegwedstryd teen Van Rhynsdorp Eagles, terwyl Vredenburg Saterdag besoek van nog ‘n aanspraakmaker, Wesbank van Malmesbury, ontvang. Abbotsdale, ook van Malmesbury, speel Saterdag tuis teen Saldanha, terwyl Robertson ná sy puik oorwinning oor Safcol verlede Saterdag in Robertson nou vir Hillcrest van Wellington in Wellington moet gaan aandurf.
Beslis weer lekker fynproewerrugby op die spyskaart vir rugbyliefhebbers hierdie komende Saterdag! – Alver Uys



