Die losskakel Elton Mfundisi druk ‘n drie, met sy sentermaat Percy Basson langs hom. Villa het die kragmeting teen McGregor 67-27 beklink en sodoende sy Top-12-plek bespreek. Foto: Stephan Neethling.

Worcester Villagers, of Villa, soos hy oor die jare bekend geword het, het die afgelope Saterdag (16 Augustus) op sy tuisveld, Bolandpark, sy plek in vanjaar se Top-12-kompetisie van Boland verseker toe hy McGregor met 67-27 verslaan het, nadat die besoekers teen rustyd 20-19 voor was.

McGregor (McGelly) het met ‘n geniepsige windjie aan sy kant aanvanklik sterk teenstand gebied en Villa moes swaar steun op sy sterk maar beweeglike pak om die oorhand af te dwing. Dit het vrug­te afgewerp toe die vaskop-stut, Franklik Smit, ná volgehoue druk met brute krag ‘n drie gedruk het, wat die losskakel, Elton Mfundisi, verdoel het. Die telling het kort hierna tot 12-0 gestyg toe die buitesenter, Percy Basson, vir ‘n onverdoelde drie oor is. McGregor het egter nooit bes gegee nie en is beloon toe sy linkervleuel, Davine Adendorff, oor is en sy heelagter, Reagan Jagers, uit die hoek verdoel het om die telling na 7-12 te krimp.

Die telling het tot 19-7 gegroei toe Mfundisi ná ‘n skitterende breekslag onder die pale gaan kuier en self verdoel het.

McGelly het teruggeslaan toe sy flank Branwin Manus ‘n onverdoelde drie gedruk het. Jagers – behoorlik aangevuur – het hierna self vir ‘n onverdoelde drie oorgeduik en kort voor rustyd met ‘n strafskop geslaag om sy span 20-19 te laat voorloop.

Ná rustyd het Villa ten volle beheer oorgeneem. Met verskeie plaasvervangers op die veld het sake uit die staanspoor klopdisselboom verloop. Eers is Kyle Jacobs (slot) oor waarna Mfundisi die twee punte bygevoeg het.

Kort hierna is Dwayne Atkins (regtervleuel) vir ‘n onverdoelde drie oor om Villa met 31-20 te laat voorloop. Girshwin Joubert, die skrumskakel wat na heelagter verskuif is om plek te maak vir “die Generaal” Gurshwin Africa, is hierna oor en met Mfundisi se doelskop het die telling tot 38-20 gestyg. Die flank Mario Marinus, wat Saterdag as kaptein waargeneem het, is hierna vir sy drie oor, gevolg deur Basson se tweede drie, wat die telling tot 48-20 te geneem het.

McGregor het steeds nie moed opgegee nie en is met ‘n drie deur die skrumskakel, Clement Hamilton, beloon en Jagers het verdoel en die telling na 48-27 gekrimp.

Villa se volgende drie is deur Stevanno Afrika, die heelagter wat na linkervleuel verskuif is, gedruk. Atkins is hierna oor vir sy tweede drie. Met Mfundisi wat verdoel het, het Villa 60-27 voorgeloop. Kort voor die einde is Basson vir sy driekuns oor en met die plaasvervanger-losskakel Clayton Isaacs se doelskop eindig Villa as die wenners met 67-27, wat sy plek in die Top-12 verseker het nadat sy bure, Young Hamiltons, 34-31 teen Robertson Town verloor en daarmee sy aanspraak prysgegee het.

• In die hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes McGregor B met 53-17 geklop met Chris Daniels (skrumskakel) die uitblinker met vier drieë. Villa se derdes het dit drie in ‘n ry gemaak toe hy McGregor se derde span met 31-3 geklop het. In die eerste wedstryd van die dag het Central Wolwes se vrouespan Worcester Warriors se vrouespan 22-17 oorheers. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Standard E-Edition 15 January 2026
    Standard E-Edition 15 January 2026

Gift this article