Die 21-jarige Michael Ross, ’n student van Boland Kollege in Worcester, het onlangs aan ’n sweiskompetisie by die wêreldvaardighedeberaad in China deelgeneem.
Dié geleentheid waar deelnemers se vaardighede getoets is, was van 5 tot 10 Junie.
Michael, wat in Worcester gebore is, het in Riverview grootgeword en is van ’n jong ouderdom af blootgestel aan praktiese vaardighede – spesifiek sweis.
Michael moes in die kompetisie verskillende goed sweis, waaronder filletsweis, boutsweis asook vertikale/horisontale sweiswerk.
Suid-Afrika was een van 37 lande wat aan die kompetisie deelgeneem het en het die derde plek in die algehele uitslag gedeel.
Michael wil leerders graag motiveer om wiskunde en natuurwetenskap as vakke op skool te kies aangesien dit nie net in die sweisbedryf nie, maar ook op die gebied van soveel ander beroepe van toepassing is.
Sy motto is dat mense wyer as hul eie omstandighede moet dink en nie hul denkwyse moet laat stagneer nie.
Michael se droom is om hom as sweisingenieur te bekwaam en aktief in die bedryf werksaam te wees.
Sy ouers steun hom heelhartig en droom saam met hul seun om sy toekomsdrome te laat verwesenlik.
Michael sê die Chinese is ’n ongelooflik gedissiplineerde volk en ’n goedhartige nasie. “Nog ’n onvergeetlike ervaring was die wolkekrabbers wat ons aanskou het.”
Wat Michael die meeste gemis het, was natuurlik Suid-Afrikaanse kos, aangesien die Chinese se dieet baie van dié van Suid-Afrikaners verskil.
Michael se familie is aktief in die sweisbedryf betrokke en sodoende het hy ’n liefde vir hierdie praktiese ambag ontwikkel.
Sy lektore beskryf hom as ’n hardwerkende en pligsgetroue individu.
Angus Volkwyn, Michael se Afrikaans-lektor, sê Michael beskik oor sterk analitiese vaardighede wat hom handig in sy studieveld te pas kom.
“Hy is baie oplettend en nougeset – iets wat sy werk aanvul en uitstekende gehalte daartoe voeg.”
Michael het hom in Johannesburg vir sy deelname aan die kompetisie in China gaan voorberei en hierdie ervaring het ’n blywende indruk op die jong man gemaak.