Al is daar ’n tekort aan die chloor waarmee drinkwater behandel word, het Worcesteriete geen rede tot kommer nie, sê die munisipaliteit.
Die land ervaar tans ’n tekort aan chloor-voorsiening – spesifiek die vloeibare gas-chloried wat deur waterrade en groot munisipaliteite gebruik word om water te behandel sodat dit veilig is om te drink.
Die Stad Kaapstad het ook aangekondig dat inwoners nie bekommerd hoef te wees dat hul water onveilig gaan wees om te drink nie.
Volgens kenners kan die tekort aan chloor wel tot ’n gesondheidskrisis lei by munisipaliteite wat nie gebeurlikheidsplanne in plek het nie.
Luidens berigte monitor die nasionale departement van water en sanitasie daaglikse die situasie om die risiko van moontlike tekorte te bestuur.
Die fabriek wat die gas vervaardig se voorraad staan tans op 80%, sê Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement.
Volgens die Breedevallei-munisipaliteit was daar ’n voorval by die gasvervaardiger in Kemptonpark. Dié fasiliteit, Suid-Afrika se hoofvervaardiger van chloorgas vir watersuiweringsdoeleindes, het onlangs erge ontwrigting van voorraad ervaar. Die fabriek is nou weer in bedryf, maar dit sal tyd neem om reserwes op te bou, aangesien daar nou ’n opgehoopte aanvraag van waterrade en munisipaliteite ervaar word.
Volgens ’n woordvoerder het die munisipaliteit genoeg chloor by al sy watersuiweringsaanlegte in voorraad. Die munisipaliteit het ook reeds nuwe voorraad bestel om so gou as moontlik afgelewer te word.
“Worcester se kraanwater is baie veilig om te gebruik,” sê die woordvoerder.
Indien die nasionale probleem voortduur, het die munisipaliteit gebeurlikheidsplanne vir die verkryging van chloorgas-vervangers.
“Ons wil inwoners verseker dat ons nie ’n punt bereik het waar die nasionale tekort aan chloor die gehalte van drinkwater beïnvloed nie.”
’n Tekort aan water word ook nie ervaar nie, sê die munisipaliteit, maar mense moet spaarsamig te werk gaan.