Charl Jacobs, die sekretaris van Worcester United Taxivereniging, sê die vereniging ontken alle aantygings.Foto: Enrico Claassen


Charl Jacobs, die sekretaris van Worcester United Taxivereniging (Wuta), sê die vereniging ontken al Michelle Vos se aantygings.

Volgens Jacobs het hy nog nooit gesien dat minibustaxi’s in die parkeer-ruimtes wat vir gestremdes gereserveer is, parkeer nie.

“Waar is die bewys? Ek waarborg jou die kantoor sal dit ondersoek indien ons dit ontvang.”

Jacobs sê indien Vos-hulle bewyse het van ’n bussie wat op hul parkeerruimte parkeer en al die ander aantygings, gee hy haar die versekering hulle sal teen die betrokke taxibestuurders – selfs teen die eienaars – optree.

“Ons het al drivers geskors van die taxistaanplek af wanneer hulle byvoorbeeld nie op tyd by hul bussies is nie.

“Daar was in ’n stadium ’n dobbelgees op die rank en ons het daardie drywers ook geskors.”

Jacobs sê sy vereniging nooi die bestuur van die Breedevallei-vereniging vir en van mense met gestremdhede uit om met hulle (die taxivereniging) te vergader sodat enige probleme wat hulle ondervind, op ’n vreedsame manier opgelos kan word.

Intussen sê Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), dat die munisipaliteit steeds klagtes ontvang van die Breedevallei-vereniging vir en van mense met gestremdhede oor die “onaanvaarbare gedrag” van die taxi-bestuurders by die taxistaanplek in Greystraat.

Sy sê dié klagtes gaan regstreeks na die bestuurder van verkeersdienste.

Botha sê ’n aansoek deur die vereniging om die parkeerruimtes in Kerkhofstraat te laat afsper, was onsuksesvol omdat daar munisipale dienste onder die voorgestelde gebied is.

Op ’n vraag oor watter maatreëls die BVM ingestel het om die vereniging te help beskerm teen die gedrag deur taxibestuurders by die taxistaanplek in Greystraat, sê Botha die munisipaliteit het op elke klagte wat aangeteken is, reageer en talle boetes is al aan die betrokke taxi-bestuurders uitgereik.

“Wetstoepassers het hierdie gebied lankal deel van hul daaglikse patrollie gemaak.

“ ’n Aansoek van Wuta is aan die voormalige direkteur gestuur om die randstene in Kerkhofstraat te laat sak vir die taxi’s om te parkeer, wat gedoen is.”

Sy sê die verlaging van die randsteen maak dit vir taxi’s maklik om langs die pad te parkeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article