Wynmaker sterf in motorongeluk

’n Bekende wynmaker van McGregor is Sondag 9 Januarie in ’n motorongeluk dood.

Elmo du Plessis, senior wynmaker by Roodezandt Koöperatiewe Wynmakers Bpk, het in ’n motorongeluk omgekom.

Credit: SYSTEM

’n Bekende wynmaker van McGregor is Sondag 9 Januarie in ’n motorongeluk dood.

Elmo du Plessis was omstreeks 01:45 onderweg na McGregor toe sy motor van die pad af gery het. Die ongeluk het 4 km buite Robertson gebeur.

“Die motor het van die pad af gery en omgeslaan. Die passasier wat saam met die oorledene in die voertuig was, het ligte beserings opgedoen,” het AO Blackie Swart, ’n woordvoerder van die Robertson-polisie, gesê.

Du Plessis het sedert 1999 by Roodezandt Koöperatiewe Wynmakers Bpk gewerk.

“Hy was ’n wynmaker daar tot 2008, toe hy ’n pos as wynmaker by McGregor Koöperatiewe Wynmakery Bpk. aanvaar het. Die amalgamasie van Roodezandt en McGregor is in 2020 gefinaliseer en Du Plessis het toe as senior wynmaker by Roodezandt (RF) (Edms) Bpk. se McGregor-perseel gewerk,” het ’n woordvoerder van Roodezandt gesê.

Sy kollegas gaan die meeste sy liefde vir die wynbedryf en sy mense mis.

“Veral sy liefde vir die bedryf en die bedryf se mense, en die toewyding en oorgawe waarmee hy sy werk aangepak het. Die bedryf het ’n goed gewortelde staatmaker verloor.”

Op hul Facebook-blad het hulle die volgende inskrywing gemaak: “Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van ons kollega en vriend Elmo du Plessis aankondig. Jy is al meer as twee dekades deel van ons gekombineerde Roodezandt- en McGregor-familie en ons sal altyd die passie wat jy vir jou gekose beroep gehad het, onthou. Jy was ’n seun, broer, lewensmaat, vaderfiguur en vriend vir dié wat jou omring het en jy sal baie gemis word. Rus in vrede tot ons weer ontmoet.”

Standard het verneem die oorledene se familie het privaatheid in hierdie tyd versoek, en ons respekteer hul wense.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.