Jan du Toit (stigter) en Coenie du Toit (eienaar) van JCR du Toit Vervoer sê hulle het ’n visie gehad om ’n vervoermaatskappy op die been te bring wat uitsluitlik op die vervoer van grootmaatwyn en verwante produkte fokus, maar ook kliëntetevredenheid.
Uit ’n klein begin van een vragmotor, baie passie, deursettingsvermoë en harde werk, het JCR du Toit Vervoer met rasse skrede gegroei om vandag uit ’n vloot van tenkwaens met verskillende kapasiteit te bestaan, wat in elke vervoerbehoefte van kliënte kan voorsien. “Ons kan enigeen ’n bekostigbare diens lewer, maak nie saak hoe groot of klein die vrag is nie,” sê Coenie.
Die diens wat aan kliënte gelewer word, word aangepas volgens die behoeftes. Elke vrag is dus meer as net ’n vervoer-opdrag; dit is die geleentheid om ’n verhouding te versterk.
Deur deurlopende monitering onderneem JCR du Toit Vervoer om elke vrag af te lewer soos beplan en op skedule sodat dit sonder haakplekke gebeur.
“Die veiligheid van ons werknemers en die higiëne van ons kliënte se produk was van die eerste dag af ons hoogste prioriteit. Ons is omgewingsbewus en gebruik slegs omgewingsvriendelike en voedselveilige skoonmaakmiddels,” vertel Coenie.
Om dit te beklemtoon, noem hy dat skoonmaakprosesse binne en buite die tenkwaens goed gedokumenteer is en oppervlaktes word gereeld getoets om deurlopende tenkhigiëne te verseker.
Die onderneming het ’n geskiedenis van veiligheid, diens en verantwoordbaarheid en dié waardes is die kern van al hul werksaamhede.