Hammies se B-span is die streekskampioen in die Breë-Langebergstreek se B-liga. Foto: Abigail Williams

Die Young Hamiltons-rugbyklub se A-span het wel nie vanjaar vir die Top-12-uitspele gekwalifiseer nie, maar Hammies het streekskampioenstatus met beide sy B- en C-spanne behaal. Dié spanne het beide eerste in hul afdelings geëindig en twee kampioenbekers Worcester toe gebring. Wat die prestasie so besonders maak, is dat sy buurman, Worcester Villagers, grootliks vir die feesvieringe verantwoordelik was.

Worcester Villagers het met beide die Robertson-klub se B- en C-span afgereken. Sou dié spanne bonuspuntoorwinnings behaal het, sou hulle as die kampioene gekroon word. Villa het egter ‘n stokkie hiervoor gesteek deur ‘n “bloed vir my buurman”-houding in te neem en Robertson van die twee titels te beroof.

Young Hamiltons se C-span is die 2025-streekskampioen in die C-Liga.

Hammies B en C het vir die afgelope drie jaar bestendig goeie rugby gespeel, maar vir drie jaar die kampioenskapstitels net-net gemis. Beide spanne het tweede of derde geëindig, wat daarop dui dat hulle altyd aanspraakmakers sou wees. Die spanne word goed bestuur, met spanbestuurders en afrigtingspanne wat al vir die laaste vier jaar ‘n plan gemaak en dit vanjaar perfek uitgevoer en sukses behaal het.

Beide spanne se afrigtingskorps moes verskeie struikelblokke oorkom om die prestasie te behaal. Met so ‘n talentvolle groep spelers was hulle bewus dat sukses binne hul bereik was.

Sukses kon nie vir dié twee spanne op ‘n beter tyd gekom het nie. Die klub wil ook elke speler, afrigter, spanbestuurder en ondersteuner bedank vir die reuse- mylpaal in Young Hamiltons se geskiedenis.

Alle skenkers en borge, hoe gering ook al, word ook bedank vir die rol wat hulle in die twee spanne se sukses vervul het.

Hierdie prestasie is nie net vir die twee spanne nie, maar vir elkeen wat met die klub verbind word.

Dit dui voorts daarop dat die toekoms van Young Hamiltons skitterblink is.

‘n Legkaart vir die B- en C-span is vir 2025 met sukses voltooi.

Dié sukses is ook ‘n hoogtepunt in die afskeid van die spankapteins Akgenan Otto en Charlie Beukes, wat die afgelope paar seisoene die B- en C-spanne met sterk leierskap aan die voorpunt gelei het. – Japie Visser

You need to be Logged In to leave a comment.